![]() Ons het mekaar in 1969 ontmoet toe ons beide op Sasolburg Hoërskool in die Vrystaat was. Ek het daar grootgeword, maar Henk het slegs sy standerd 9 en 10 daar kom voltooi. Ons was gou verlief en het drie jaar 'n romantiese skoolkys gehad.
Maar nou ja, die lewe het gebeur en na skool (1972) is hy terug Holland toe. Sonder internet, Whatsapp, en Skype was dit vrek moeilik om kontak te behou, en in 1973 het ons moed opgegee. Ons al twee het in die huwelik getree en lewens en loopbane op ons onderskeie kontinente gebou. Ons het nooit weer van mekaar gehoor tot 2012 nie. Alles het net vir ons reg gevoel tydens ons herontmoeting in Nederland en ons is in 2015 getroud. Kinders en kleinkinders Ek het drie lieflike kinders, my twee dogters is in Pretoria en my seun en sy gesin bly in Perth, Australië – en my drie kinders het my sewe kleinkinders gegee. In Holland het Henk vier aantreklike seuns grootgemaak en het (sover) drie kleinkinders. Ons voel ryk om soveel nuwe mense in ons lewens te kon verwelkom. Van ons kinders het mekaar nou al ontmoet en Henk se oudste seun het onlangs met 'n Afrikaanse meisie wat hy op my dogter se troue ontmoet het, in die huwelik getree! Hulle bly baie gelukkig saam in Alberton. Ons klippie in die water het voorwaar wye rimpels gemaak. Ons lewe saam Ons het vir 'n paar jaar heerlik in Sabie gewoon, toe Pretoria toe verhuis maar is op pad terug na ons hartswêreld en -huis daar tussen die berge. Ons kan van enige plek op aarde reis en rondkuier terwyl ons materiaal vir skryfwerk en ons eie herinneringe kan versamel. Hier is voorbeelde van ons artikels. Rappard Reise het ontstaan uit ons eie ondervindinge: Hoe om sakpas te reis en te spaar voordat ons iewers heengaan. Ons leef kleurvol en kreatief - ons voel geseënd om in ons senior jare 'n tweede kans op geluk te kon kry en gryp dit met albei hande aan. Ons boek Ons boek "Die Rooi Trem" het onlangs uitgekom. Naledi in die Kaap publiseer dit. Daarin is ons hele verhaal te lese. Dit is 'n epiese liefdesverhaal met lief en leed, blydskap en avontuur - gedaantes en drome maak hul verskyning. Ons vertel van ons bagasie, vrese en eindelike vredemaak met dit wat ons nie kan verander nie. Lees meer hier. Kry die boek hier. |
|