![]() Ry ons toe nou gister Nelspruit (Mbombela) toe met een taak in gedagte - om aansoek te gaan doen vir Henk se pensioenvisum. Hy het in Holland al die nodige dokumente gekry wat nodig sal wees daarvoor, soos medies-, polisie- en werkdoks wat ingedien moet word. Daar gekom (60km van ons af), moet ons toe nou uitvind dat Binnelandse Sake sedert 23 Mei dié jaar nie meer met permitte of visums werk nie. Daar is nou 'n agentskap wat dit doen. Die verskil in rand is omtrent R1000. En nou moet mens eers op hule webblad aansoek doen, dan 'n afspraak maak en dan hoop vir die beste. Ons is senuweeagtig hieroor want hy het tans net 'n gewone drie maande permit en ons is nou al vyf weke terug. Die permit vir afgetredenes is 4 jaar geldig waarna hy vir permanente verblyf kan aansoek doen. Maar die geheen-en-weer vlieëry kos ons te veel, en ons wil dit vir die res van dié jaar ten minste, vermy. So daar is ons toe nou bekaf weg, en gaan drentel toe maar by Builders Warehouse en Checkers rond om huisdinge te kry. Ons het darem 'n tuinslang gekoop, aangesien ons sin verdwyn het, en ook 'n goedkoop braai vir 'n vuurtjie in die aande op die stoep. Ons gasbraai doen die braaiwerk maar ons mis vlamme. So gisteraand het ons toe die vuurtjie aangesteek en lekker in die vlammetjies gestaar, idees uitgeruil oor kleure en ontwerpe vir ons huisie se nuwe baadjie, toe sommer vinnig rashers en braaibroodjies gebraai en vroeg gaan slaap. Twee uur in die nag was ek wawyd wakker en het die een fliek na die ander gelê en kyk, en glad nie weer geslaap nie. Dit raak nou normaal vir ons - ons kan nie langer as 6 ure slaap nie, dan is dit verby! Ongelukkig is mens dan al teen 7 uur soggens vrek moeg, nee kyk, dis irriterend! Ek is moedeloos oor die ratte wat so vashaak met omtrent elke blerrie ding wat ons moet deur. Daar is steeds onafgehandelde goed in Holland ook. Dit voel vir my hulle is maar net so useless met sekere goed soos ons hier in SA. My geduld word wragtig so-o-o-o-o beproef! En die suikerbekkie wat die soet sappies hier uit die groot strelitziablom voor die venster kom suig, slaag darem daarin om my op te beur - ook maar 'n genade vir 'n ongeduldige mens soos ek!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|