![]() Sedert my laaste skrywe het nogal baie gebeur. Ons vriende van Holland was tot Donderdag hier by ons (vir 'n week) en ons het saam met hulle 'n magdom dinge gaan sien en doen - was net lekker om ons omgewing met hulle te deel, en sommer in die proses ook net weer bly te wees dat ons hier kan woon - dis wragtig 'n voorreg! Hulle is op die oomblik in die Wildtuin en sal dan nog twee nagte by ons deurbring en tussenin nog lekker dinge gaan doen voordat hulle op 2 Oktober terugvlieg. En hét ons hulle op tipies Afrikaanse manier voorgestel aan alles: ons het tenminste vier aande op die stoep gebraai; die heerlike warm lenteaande en sterrehemel was vir hulle net ongelooflik; hulle het saam met ons en 'n groot groep ander gaste verjaarsdag in Nelspruit gaan hou, het nét Afrikaans gehoor, pap en sous probeer én dit verskriklik geniet; vir die eerste keer in hul lewe 'n ontbyt gaan "uiteet" (Spur) (Hollanders ken glad nie hierdie gebruik van ons nie, en dit word slegs van nou onlangs af by kitkosplekke soos MacDonalds bekendgestel daar); en die kersie op die koek was die potjiekos wat hulle by Smokey die Trein-restaurant hier in Sabie geëet het - was te heerlik vir hulle! Ek het darem ook my binnepret gehad met die Nederlands weer, ek het al vergeet hoe oulik hulle partykeer iets kan sê, én hoe erg dit in Afrikaans kan klink! Soos die aand toe ons op die stoep sit en besoek kry van een moewiese spinnekop. Inéz en Bert was heel geskok en ek moes my inhou om nie hard te lag toe sy verskrik reken: " Prik hem op zijn kont, prik hem op zijn kont!" Ag mense, dis kostelik! Ons was ook Blyde toe saam met hulle, Kolkgate, God's Window, al wat 'n waterval gaan besigtig, en het selfs in Barberton 'n draai gaan maak - hier het ons in van die ou Victoriaanse museumhuise gaan ronddrentel en eindelik terug in Nelspruit hulle aan die Laeveld Botaniese tuin gaan voorstel. Hulle was in ekstase oor elke ondervinding sover en ons kan nie wag om te hoor wat hulle wildtuin-ervaring vir hulle beteken het nie. Ek glo die meeste van ons familie en vriende het al verneem dat ons besluit het om eersdaags die knoop deur te haak. Weer eens kom ons allerlei 'bere in die pad' teë - dokumente moet van Nederland aangevra word en ons sukkel met die ambassade in SA om ons te help daarmee. Dis ook al drie maande maar steeds geen woord van die 'pensioen-visum' nie - nie te 'track' of 'trace' soos belowe is nie, maar nou ja, ons raak al heel gewoond aan sulke dinge. En vandag is ons so bly want dit reën - heerlike deurdringende reën! Dit is die eerste reën vandat ons terug is in SA (vier maande), en ons is bly - nou gaan die tuin eindelik weer begin floreer! En ons het 'n horde plante wat smag om uit hul swart plastieksakkies in die grond te kom - dié week gebeur dit, ons belowe.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|