So maak Henk vir die eerste keer in sy lewe met die harde werklikheid van 'n droë land, kennis. Hy het nie geweet dat daar iets soos waterbeperkings kan bestaan nie, dat droogte 'n land op sy knieë kan dwing en elke mens daagliks vol hoop die lug in kan staar en hoop vir 'n wolk wat moontlik reën kan beteken nie. Vir hom was water, sy hele lewe lank daar in Holland, sommer deel van die uitsig - behalwe vir die alomteenwoordige Noordsee, is die gragte, waterslote en vijvers absoluut oral vol water!
So sien ek hom die laaste weke, sedert ons terug uit Holland is, alle moontlike weervoorspellings volg, ook die wolke dophou, en saam met my juig toe die eerste druppels eindelik eergister by ons begin val. Ek dink my arme Hollander het met die verskriklike droogte in sy nuwe land, die skok van sy lewe gekry, én beslis nog meer respek en empatie vir die boere van Suid-Afrika gekry. Op persoonlike gebied het ons ook weer ryklik "reën" gekry vandat ons terug tuis is. Eers het ons seker vir twee weke uitgerus, liggaamlik en emosioneel, na ons reis. Ons beplan, bedink en bepraat die toekoms nou weer in meer detail. Al ons amptelike dinge is in plek, soos versekering, medies, polisse, ens, sodat ons nou weer kan voortgaan om die huis te renoveer. Verf is gekoop, werkers is bespreek en ons behoort van die einde van die week af die laaste vertrekke finaal aan te begin pak. Ook het my kreatiewe plantkind vir ons 'n mooi tuinplan ontwerp, sodat ons daarna eindelik ook ons voortuin mooi sal kan maak. Dis ook maar erg dat nie een van ons twee tuinmense is nie - hy, as stedeling in Nederland, het nooit 'n tuin gehad nie, en ek hét dit net nie. Ek bedink en beplan, maar ek gee vinnig moed op as dinge nie wil groei nie of die verkeerde plante mal gaan. So dankie tog vir die hulp, Melanie! Op werkgebied gaan dit ook weer baie goed - ek het die laaste week sommer vier artikels verkoop! Jammer ek tel nou eers spoed op, want die jaar is verby, maar 'watch this space' in 2016. Henk help met foto's, statistieke en inligting. Ons kry ons 'groove' weer terug, dankie tog!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|