![]() My jongste verjaar vandag en al wat sy vir haar verjaarsdag wil hê, is Ma se kos! So, dan sal ek dit doen. Is sulke goed nie waarom ons Pretoria toe getrek het nie? Ek het lui geword om kos te maak. Vrek, vreeslik, lelik lui! My ma sou haar vir my geskaam het! Sedert ek en Henk so bederf geraak het in Holland met sy heerlike gereed-om-om-te-eet-produkte, het ek op 'n stadium tot die besef gekom, ek maak nie meer graag kos nie. Hier in Pretoria is ons oorkant allerhande eetplekke, naby aan alles wat 'n lui kok se hart kan begeer, sodat ek nou hier heeltemal in 'n kooklose hemel beland het. En Uber Eats het my beste (ongewenste) vriend geword. Maar vandag kook ek van scratch af, want my kind het gevra ... So, dit gaan dan beesvleisbredie met klein aartappeltjies, heel uitjies en ander groente wees. Sy is lus daarvoor. Henk is nie lui om groente te help skil nie - gelukkig. So vroegdag al is al die bestanddele op die mini-toonbank uitgepak en is met die voorbereiding begin. Hulle sal ná werk arriveer. Intussen moet ek nog wegglip om 'n geskenk te koop en Henk moet sorg dat daar wyn is. En ek kook weer. Soos vanouds toe ek baie mense in die huis gehad het. Dit voel lekker. Dit is bevredigend. Ek geniet dit. Geniet??? Ná afloop van die aand klim ek beenmoeg en rugseer in die bed en lê soos altyd met my kop op my man se bors - sy hartklop in my ore. Ek maak my oë moeg toe en sug tevrede. Klein dingetjies soos om iets vir jou kind te doen waarvoor jy eintlik nie meer kans sien nie, maak 'n mens gelukkig, weet ek en raak aan die slaap. Tot gauw weer! Stephanie
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|