![]() Nooit gedink dat SA se poskantoor ooit 'n invloed op my lewe sal kan hê nie - man, ek maak glad nie gebruik van papiervoetspore nie - alles word per e-pos gedoen vir jare al. Ons wou mos sommer op 10 Oktober sonder groot trompetgeskal die knoop deurhaak, kinders en kleinkinders was gereed om die dag saam met ons te kom vier, en Ma was hier vir die okkasie. En toe ... Nou wel, daai klomp opstandige stakers het dit toe nou mooi reggekry om ons voornemende huwelik in die wiele te ry - 'n oorspronklike dokument uit Nederland wat ons nodig het om amptelik te kan trou, hang nou êrens tussen aflewerings en leë posbusse en ons moes alles kanselleer as gevolg daarvan. Ma is terug Pretoria toe (het wel heerlik gekuier darem) , en almal is teleurgesteld. En ons bekke is lekker dik daaroor! Maar tog aan die ander kant vra ek die heelal altyd wat was die doel van so iets - en ek het dalk die antwoord op dié een. Behalwe vir die koue en reënerige weer wat ons nou ondervind, wat ons piekniekplanne by Lone Creek-waterval totaal in die wiele sou ry, het ons pas gehoor my kind van Australië kom in November kuier, en dalk, net dalk val alles dan in plek en is hy ook hier om die dag op 'n nuwe datum saam met ons te vier! My hart loop oor van blydskap oor ek my seun weer na vyf jaar gaan sien. Ek mis die velkontak, die drukkies en om sommer net aan sy arm en wang te kan raak. Niks maak op daarvoor nie, nie Skype, Whatsapp of Facebook nie. Ons was in 2009 daar by hulle in Perth, sodat ek geweet het waar hulle woon, hoe hul omgewing lyk en hoe hulle lewe - wat die verlange altyd effens verlig na die tyd, maar daardie persoonlike kontak mis mens maar net elke dag. Ons hele familie is in ekstase oor dié onverwagte besoek - ons kan nie wag nie! Dan was daar tog 'n plan in dié deurmekaarspul, en dan moet ons maar weer van vooraf wag, van nuuts af beplan en dan op die ou end weet dat alles reg uitgewerk het - soos ons tog altyd in retrospek kan sien. En vandag rus ons net na die uitputtende week, knus saam voor die televisie met 'n lekker movie of twee, en voel snoesig as ons deur die venster die misvlae sien verbytrek. Ons is bymekaar, dis al wat tel.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|