Shkoder-meer Kunswinkeltjie in Makarska Roostuin in Tuscany Reënboog oor Sabie ![]() So met die laaste drie dae se gereedmaak vir Holland, wil-wil die uitsien na die stad van my hart my soms oorweldig. "Ek sal maklik daar kan bly,"sê ek soms vir vriende, maar weet dat my mense in ons land vir my té belangrik is. Tog ... wie weet? Soms wonder ek steeds waar ek regtig hoort. My hart is op soveel plekke: Den Haag, die platorand van Mpumalanga, Scheveningen langs die Noordsee, die wildtuin, ou Delft, Gent in België ... En het stukkies van my siel nie in Makarska (Kroasië), Shkoder (Albanië) en die groen Toskaanse heuwels agtergebly nie? Ek kan myself maklik ook daar langs die Swanrivier in Perth sien stap, vrede in my hart met my ou Lief styf teenaan my. Ek hou verskriklik baie van stilte. Ek hou ook van aksie. Nie aksie soos valskermspring of bungi jump nie. Nee, die ewige beweging van 'n stad. Ek hou van 'n stad. Baie. My geliefde stad, Den Haag, het alles wat 'n mens se hart kan begeer: Perfekte openbare vervoer, fantastiese winkels, geskiedenis, karakter en 'n persoonlikheid van sy eie. Hy vra jou amper soos 'n sku vryer om hom lief te hê soos hy is, maar weet nie dat hy reeds onweerstaanbaar is nie ... Ek kan nie té veel skryf vanoggend nie: Ek het 'n Saterdag-afspraak met my twee kleinseuns - gaan hulle mis as ek doer ver sit. Ons het boonop nog heelwat admin om te doen die naweek en die pakkery vorder fluks. More gaan my kleindogter en haar tannie saam met my om die Franse sanger,Benjamin Fellato, se middagkonsert by te woon hier oorkant ons by die Brooklyn Teater. Ons 14-jarige meisiekind droom van kleinsaf drome oor Parys en ek weet sy gaan dit verskriklik geniet - nog 'n spesiale klein afskeid voor ons Dinsdag vertrek. So ja, hoewel ek nog nie die antwoord het op my vraag hierbo nie, weet ek wel dat ek op hierdie oomblik, in dié jaar, hier in die Jakarandastad by my hartsmense hoort. Wat die toekoms vir ons inhou, weet ek nie ... Volgende keer vanuit Nederland - tot dan, mooi bly! Stephanie
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|