![]() As ek nou iets geleer het die laaste twee jaar, is dit dat kulture waarlik verskil, maar mense maar oral baie dieselfde is. Ook het ek vrede gemaak met die feit dat ek nie noodwendig ooit sal verstaan hoe die dinamiek tussen ander gesinne en families werk nie - om die waarheid te sê, verstaan mens nét jou eie, dit weet ek nou. Ons twee het die moeiliker kultuurverskilletjies vinnig uit die weg gekry en gefokus op ons as mense - en ek moet sê, die verskille tussen ons is nie 'n klip in die skoen nie, maar sorg eerder vir baie oulike oomblikke en baie stof vir ontleding en urelange gesprekke. Soos ons tale: ons voertaal is Afrikaans en hy het die taal so vinnig weer opgetel na 40 jaar, dit is net te ongelooflik. Ek kom agter dat ek tog baie uitdrukkings en woorde wat tipies Nederlands is, in ons gesprekke gebruik. Afrikaans en Nederlands is so na aan mekaar, maar kan tog ook vir misverstande sorg. Hy lag hom partykeer vrek vir ons oulike gesegdes, en daagliks kom 'n nuwe een uit, wat my dan ook laat glimlag as ek dit deur sy ore hoor. Soos, 'kuier 'n hond uit 'n bos uit', byvoorbeeld - vir ons alledaags, maar hy lag vir die prentjie wat hy sien - en dan giggel ons lekker saam. Verder oor die taal: die gemiddelde Hollander kan glad nie verstaan wat ek sê nie - gelukkig kom ek al goed reg met 'n paar van die familielede. Dit het te doen met ons Afrikaanse uitspraak, wat dalk meer binnensmonds is as die Hollanders se breë gebruik van die mond en harder en 'platter' uitspreek van hulle a's en e's byvoorbeeld. Dit is natuurlik 'n frustrasie want dit voel vir my ek kan myself nie regtig uitdruk nie, wat dit tog moeilik maak vir mense om my te leer ken. Ek weer, verstaan elke woord wat hulle praat, maar ek bly maar baie kere stil en is nie deel van 'n gesprek nie omdat ek dit vir hulle gun om lekker te gesels sonder om met moeite na my te moet luister. Ek het ook met een van die seuns in Engels begin kommunikeer, en ek dink dit was 'n beter idee. Hier is dit ook nodig om streng volgens afsprake te sosialiseer, met familie en kinders ook. Moenie dink jy kan sommer net êrens inval nie - nee, dit moet lank voor die tyd gereël word. Dit is vir my nogal 'n aanpassing omdat ons meer informeel in SA is. So kon ons tot op hede, nog nie afsprake met een of twee van die kinders vasmaak nie, en dit lyk of daar van hulle is wat ons nie gaan sien voor ons teruggaan nie. Dis jammer, want eendag sal hulle besef dat hul pa nou 13 000 km ver sit, en dan gaan hulle spyt wees dat hulle nie tyd vir hom kon inruim in hulle besige skedules nie. En ek probeer nie nou bitter klink nie, maar vind dit regtig hartseer. Goddank vir die liefde en ondersteuning wat ons tog so mildelik hier van die meerderheid van die familie ontvang. Dit is voorwaar fantasties. Die seuns help trek en pak, sus Petra bied aan om te help as ons weg is met verkope, ons het uitnodigings na etes wat voorlê, en die Whatsapp's vlieg tussen ons. En dit is so lekker en ek weet ons kan net bou op hierdie verhoudings, selfs al is ons ver. Amper almal van hulle wil nou Suid-Afrika graag kom besoek, en ons hoop om hulle daarmee te kan help. Ek besef ook dat dit wat ek dalk as negatief ervaar dalk ook maar net weer deel is van die dinamiek tussen mense wat ek nie kan verstaan nie ... En ek beweeg aan, ek kan niks daaraan verander nie. Punt.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|