![]() Kry ek toe tot my skande eers gister my twee nuwe artikels ingestuur én (gelukkig) verkoop. Sal julle op hoogte hou waar en wanneer. Dit is nou nie 'n verskoning nie, MAAR, elke keer as ek deur my materiaal scroll om op 'n nuwe storie te besluit, haak ek vas: daar is soveel foto's van plekke wat ons besoek het, en dan raak ek vasgevang in 'n wandeling in die laan van herinnering :-). Dan blaai ek en Henk deur die foto's en ons lag weer oor een goeie dag in Utrecht, Delft of op die boulevard van Scheveningen. Mens word onmiddellik teruggevoer na oomblikke, gevoelens, smake en geure van 'n spesifieke oomblik 'n jaar, twee, drie of vier terug. En dit is heerlik! Ek het my bes gedoen om veral die Europese trippies in volgorde te skryf en geplaas te kry - omdat ek dinge dan nog helder kon onthou. Mettertyd het ek egter besef, die menslike brein is 'n wonderlike ding, want sodra ek na die foto's kyk, kom die herinneringe klokhelder terug, maak nie saak wanneer dit was nie. Hier moet ek darem sê, ek kan ook aan geheueverlies ly wanneer dinge nie goed gegaan het nie, maar die lekker dinge onthou ek duidelik! En natuurlik help die internet ook! So het ek nie te lank gelede nie eers die Sint Andrews-storie geskryf wat ek in 2012 saam met vriende Conrad en Francina tydens ons Skotland-reis meegemaak het. Ek dink nie mens vergeet Skotland sommer so nie: die groen heuwels, spierwit skape, bruisende waters wat in die lochs afstroom en die totaal desolasie van die Isle of Skye ... Dit is vir ewig in mens se geheue ingeprent. Soos my en Henk se Engeland-ondervinding ... Ons was dié week presies 'n jaar gelede amper op pad terug Suid-Afrika toe na 'n maand in Nederland en het weer eens soveel gesien en beleef dat ek die laaste maande slegs daaroor geskryf het: Maastricht in Beeld, Gent in Vrouekeur en my twee nuwes ook oor laas jaar se ondervindings. Maar, ek het nog 'n magdom materiaal van die vorige jare se reise waaroor ek nog wil skryf; dit is meestal tydlose stories en daarom is dit gelukkig nie 'n probleem nie. Herinneringe is onbetaalbaar, maar die keersy van alles is dan die gemis: die verlange na sekere plekke wat ek daar liefgekry het, die veilige lewe daar, die anderse ambience en popmooi historiese geboue, die ry op die trem na ons geliefkoosde bestemmings in Den Haag en Delft. Dit was ook die besonderse begin van my en Henk se nuwe lewe saam sodat ek altyd maar met 'n knop in die keel na die foto's van 2012 tot 2015 sal kyk. Soos in Holland, maak ek en Henk hier in Suid-Afrika ook memories. Die laaste twee jaar was ons al amper die hele land vol en tuis bou ons steeds aan 'n rustige maar tog kleurvolle bestaan saam. Ons verruil ook nie maklik ons lewe hier vir dié van die koue Nederland nie, hoor? En Henk se Euro's is hier baie meer werd as daar! Ek het myself voorgeneem om nou ook tussenin meer oor ons eie Suid-Afrikaanse juweeltjies te skryf; ek soek idees van besondere plekke met 'n interessante geskiedenis, as julle my asb op Facebook (of die kontakvormpie) sal inbox, sal ek dit waardeer! Jip, skryf moet ek skryf, anders voel ek nie regtig héél nie - so half soos 'n weeskind ... Groete tot volgende keer!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|