Die laaste twee jaar het ons geswerf van plek-tot-plek en ek dink dit het sy tol geëis - want ons is moeg. As ek nou net kyk waar ons oral gebly het dan kan ek dit goed verstaan.
So het dit gegaan: Van Sabie en Burgemeester Patijnlaan na die Van Goyen-huis Den Haag, na die Vissershuisie in Scheveningen, na die appartementje in Seinpostduin, na die huisie in Nautilusbaai naby Mosselbaai, na die grotjie in Gevers Deynootweg, Scheveningen, en terug na Sabie! Met pitstoppe in Pretoria, Witrivier en Den Haag by verskillende kinders. En elke keer is dit uitpak, uitsorteer, inpak, wegpak, skoonmaak en vertrek! Dis mos verskriklik uitputtend, man! Dan is dit vertrek per trem, trein, vliegtuig, bus, motor en met swaar tasse en handbagasie wat met moeite kilometers ver ten tyde van oorstappe op die verskillende lughawens aangesleep moet word - en gewoonlik in alle haas! En wie kan in 'n vliegtuig slaap? So eindelik kom ons tot rus hier inniehuisieoppiekoppie. Maar ons stap toe nie net in en kan rus nie, nee, ons moet ons alies afwerk om dit leefbaar te kry en in te settle. En nou na presies een maand begin ons eers regtig rus vind. Die sonsopkoms soggens en die heerlike windstil dae is elke dag weer iets om voor dankbaar te wees na lang tye van koue weer en weerbarstige winde wat nie net in Holland nie, maar ook in die Tuinroete ons koppe en siele heeltemal deurmekaar gewaai het. Ons kry nou kans om lekker dingetjies in en om die huis ook te doen, nie net 'damage control' toe te pas nie. Henk potter in die tuin rond en verf, en geniet dit, en ek skryf en geniet dit, so ons rus elkeen op sy eie manier al te lekker op die oomblik. Eindelik is ons tuis en kan ons net uitademen!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|