.Die dag is heel helder en tussenin is gelukkig ook blou lug 'vir matroospakkies' - soos Henk se oupa hom as klein seuntjie geleer het (voor daar nie ten minste 'n paar stukkies blou lug oop was om 'n matroospakkie van te maak nie, stap Oupa nie met hom see toe nie)!
Ek het maar vaak opgestaan - die blerrie werkers het van 2.30 af die tremspoor hier naby reggemaak, beton gegooi, sien ons vanoggend, en dis nie baie bevorderend vir 'n goeie nagrus nie! Maar in elk geval pak ons steeds bokse, en neem besluite oor wat moet saam SA toe gaan en wat moet geberg word. Ons het gister weer goedjies aangery na die bergplek aan die anderkant van die stad. Ons werk met my oldies in die agtergrond - dis nodig vanoggend. Sachmo en Ella, Nina Simone, Ray Charles, Edith Piaf ... Dis kantoorgoed en mens het krag nodig! Hemel, hoekom het mens so baie goed! En wie gebruik nog Tippex???? Maar ons ontdek tog nog waardevolle sentimentele items van Henk se pa en ook van sy eie lessenaargoedjies - mens kan onmoontlik nie alles hou nie, maar wraggies daar is dinge wat mens ook net NIE kan weggooi nie. Twee uur gaan ons 'een bakje' koffie by Jessica drink. Ek het belowe ek bring 'n taartje of koekjes saam, so ons sal gou op pad stop daarvoor. Ek vermoed dis ons afskeid van haar en haar zoontje, Ciaran, want die tyd raak min. Sy was 'n baie goeie vriendin vir my hier in Holland, en ek sal haar mis. Maar so werk dit ongelukkig in die omstandighede, waar mens besef dat ons altyd verskeurd gaan wees tussen die twee kontinente - as ons in die een land is, verlang ons na die mense in die ander land. Daar is geen salf aan te smeer nie, maar ek voel ook reeds Henk se swaarmoedigheid aan oor sy kinders, kleinseun en nog-nie-gebore kleinkind ook, wat hy vir lang tye nie gaan sien nie. As alles reg uitwerk, sal hy dalk tog meer hier kan uitkom as wat almal gedink het - 'but time alone will tell'. Nou-en-dan probeer ons bietjie son op die balkonnetjie vang, maar dis maar yl. Ella sing haar self-uitgedinkte versie van Mack the Knife en ons lag. weer daaroor. Swerms swaeltjies maak draaie oor die geboue se dakke, en dis vir my ook so asof dit tot my spreek - dis tyd om na die warmer dele te vertrek.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|