![]() Die byl het geval. Henk moet terug Holland toe aangesien sy aanvraag vir 'n langtermyn visum onsuksesvol was. En nie omdat hy nie gekwalifiseer het nie, maar omdat hy weens vals inligting van Binnelandse Sake se nuwe visumagente, VFS, 'n fout gemaak het. VFS het sy aansoek ingeneem, sy geld gevat, sonder om hom te sê dat hy in sy eie land moes aansoek doen, nie in Suid-Afrika nie. Ook het hulle hom (valslik) verseker dat sy aansoek dien as visum tot die uitslag bekend gemaak word - die feit dat dit hulle vier maande geneem het, laat hom nou geen ander keuse as om uit die land te gaan nie. Immigrasieprokureurs hanteer nou alles vir hom en dan begin ons maar weer van vooraf aansoek doen, en dié keer vanuit Holland. Dit kan maande duur en ons is maar baie moedeloos. Ek sal moontlik eers op 'n later stadium by hom aansluit daar, want ons wag eers datums af - én ons liewe heksie-huisie kan nie weer alleen hier staan nie. Die laaste ses maande in Suid-Afrika het soveel wonderlike dinge gebeur, aan die een kant, maar aan die ander kant was soveel belangrike goed onsuksesvol. Henk se goed het ongedeerd hier aangekom en ons kon die huis verbeter en inrig. Ons was 'n paar keer wildtuin toe, het ons area weer geniet en kon vriende en familie hier ontvang en lekker kuier. Maar, met die poskantoorstaking kon ons nie NB-dokumente uit Holland kry wat nodig was vir ons om te trou nie, en ons huwelikskontrak is ook nog steeds nie terug nie (hoewel ons darem 'n sertifikaat het wat kon dien as bewys). So is daar seker maar 'n alewige balans in die lewe. Niks mag ooit na een kant toe té swaar weeg nie. Is dit die les hierin? Of is die les bloot dat ons selfs op ons ouderdom sal moet bly veg om bymekaar te mag wees? Hoekom moet dit so moeilik wees om bymekaar te kan wees in hierdie era van internet en die www waar grense vervaag en mens toegang tot alles op die heelal het? Of is alles OK solank mens net nie die grense van lande wil binnegaan nie? Ek het nie die antwoord hierop nie.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|