![]() En skielik is dit herfs! My geliefkoosde seisoen. En let's face it, ook nou my en my liewe Henk se lewensseisoen. Wat dit vir my beteken nou dat ek self daar is, is dat ek kan floreer deur die goeie lentedae te onthou, myself die heerlike warm somersdae op my vel kan herinner (ook waar die lewensson seer gebrand het), maar nou eindelik met meer subtiele skakerings van ondervinding en lesse geleer, in die kleurvolle herfsblaredak van die oomblik kan bestaan. En ek is moer happy daaroor! Ek dink mense van ons ouderdom is baie keer té bekommerd oor alles wat ons glo ons het verkeerd gedoen, liewer as om te onthou wat ons alles rég gedoen het. Ja, o hemel, hoeveel foute het ons nie gemaak nie! Hoeveel verkeerde besluite het ons nie geneem nie; hoeveel oordeelsfoute het ons nie gemaak nie. MAAR, mag mens nou maar op ons 60+ ouderdom onsself ook nou begin vergewe daarvoor? Mag ons nou ophou met selfverwyt? Dalk sal van die meer onvergewensgesinde mense in ons lewe ons nou van selfsug wou beskuldig. Wie gee ons dan die reg om nou gelukkig te wil wees, dink hulle dalk? Ek sê dit nie ligtelik nie want iets vreemds wat ons die laaste vyf jaar redelik gereeld met verbasing ervaar het, is die soort van ''entitlement'' wat sekere mense teenoor ons geopenbaar het. Daar word verwag dat ons ÓF aan hulle 'hoë' standaarde moet voldoen, ÓF ons is nie meer welkom in hul lewens nie. Ek sê: Baaaaaaai! Ons skuld niemand op aarde langer 'n verduideliking vir ons manier van doen nie. Ons arms is oop vir almal, take it or leave it. En as jy laasgenoemde kies, verwyt ons dan nie vir jou swak besluit nie. Wat ek wel vir 'n feit weet, is dat ons intensies deur ons lewens uit 'n goeie bron ontspring het. Was ons harte en hande nie oop vir ander nie? Het ons nie hard gewerk, kreatief probeer leef, ons bes gedoen op gegewe oomblikke met wat tot ons beskikking was nie? Of was ons soms dalk té geduldig, té vinnig om te vergewe, té naïef? Het ons soms toegelaat dat mense ons te lank manipuleer en gebruik? Het sommiges ons sagte harte met swakheid verwar? No more ! Ons tyd is NOU. Hier op die stoep van ons huisie op die heuwel van die majestueuse Mpumalanga Drakensberge, geniet ons die soel herfsdae intensief! En ons droom ook intensief: van sprokiesreise na die onbekende; oor nuwe idees vir ons gastekamers; van 'n mooi nuwe hoekie in die tuin ... Ons het geleer; ons leer steeds; ons gaan nog baie leer ... En ons geniet dit. Geniet die Paastyd!
1 Comment
Elizabeth
12/4/2017 05:20:42 pm
Reply
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|