![]() En my Witrivier-kinders trek Pretoria toe. Ons het hulle so geniet vandat ons weer terug is - vinnige inloertjies, etes en skoonseun Willie wat, gewapen met alle soorte gereedskap, hier hand kom bysit om ons skewe veiligheidshekke weer reguit en reg te kom maak. Lekker om hulp te hê. Sondag het ek 'n hoenderpastei aanmekaar geslaan en ons is weg na hulle 'plasie' toe waar ons vir laas saam met die kleinkinders daar kon kuier - hulle is op pad na ander ouma toe tot die trekkery agter die rug is. Die bokse in die huis herinner ons aan die feit dat hier ingepak word vir die groot trek oor 10 dae - en die gedagte daaraan is nogal oorheersend. Die dag was heerlik daar op die lekker stoep met die winterson wat helder skyn. Ons kuier vir laas saam met lekker kos en 'n glasie wyn en praat oor die lekker tye wat ons daar saam geniet het. Ons is baie bly vir hulle oor die nuwe uitdagings wat voorlê, en mens weet tog dat die stad soveel meer geleenthede bied as die laeveld. Dit is die einde van 'n era vir hulle én ons wat hier alleen agterbly. Hulle het heerlike dae op die plasie gehad - die ganse, tarentale en hoenders het bygedra tot die lekker ou plaasatmosfeer, en my ma het dit veral baie daar geniet. Die kinders het soveel vryheid daar gehad en kon die hele wêreld vol op hul fietse ry of hardloop. Hulle het regte plaaskindertjies geword - en dit is wonderlik! Sondag toe ons vir laas die hek uitry, met die kinders op hul fietse om die hek met die remote vir ons oop te maak, kyk ek so na hulle met 'n knop in die keel - so sal ek hulle nie weer daar op die plasie sien nie. Maar, hulle is almal so sorgvry en gelukkig - en baie opgewonde oor die nuwe lewe wat vir hulle in die groot stad voorlê. En ons ry hartseer maar ook met vrede in ons harte terug Sabie-toe.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|