Reisbrokkies 2: Persoonlike ervarings, lag en traan ![]() , Ná ons oponthoud in Fiumicino moes ons blitsig verlore tyd inhaal. So stop ons toe darem vinnig by die indrukwekkende Gaeta, Napels en Pompeii want ons volgende blyplek is anderkant Salerno. Ons bewonder eers Berg Vesuvius van Napels se boulevard af en takel liewe Napoli se agterstrate om die ervaring van “Where do you go to, my lovely” se twee bedelkindertjies te belewe. Ons moes ons koppe laat lees het! Kilometer op kilometer op kilometer in die verskriklikste verkeer deur smal paaie tussen vuil vier- en vyf verdieping-geboue deur waar armoede in elke hoekie sit en ween, was nié wat ons graag wou doen nie. Verlig was ons eindelik terug op die hoofpad met die oog daarop om met die Amalfikus na Salerno te ry. Ons ry die regte afrit mis maar neem die volgende en begewe ons op een van die mooiste kuspaaie ooit! Soms het ʼn geskenk ook ʼn prys! Die Amalfi-pad was nie net absoluut beeldskoon nie, maar ook totaal vreesaanjaend. So smal dat jy selfs moet afgaan as motorfietse van voor af aankom, met duiselingwekkende afgronde langs jou en haarnaalddraaie wat jou hart kan laat gaan staan as daar skielik ʼn voertuig aankom! In skerp teenstelling daarmee, is die asemrowende tonele van hangende landerytjies, klein kastele, popmooi dorpies met die akwablou Mediterreense See in die agtergrond. In die pragtige stad, Salerno, moes ons darem eers van die Romeinse oorblyfsels en die antieke stad gaan bekyk voordat ons uitgeput deur die GPS tot by ons blyplek in Pontecagnano gelei is. Redelik teleurgesteld sien ons dat ons blyplek in ʼn gehawende woonstelblok is én reg langs ʼn lughawe geleë is. Ons het die eienaars laat weet ons is amper daar, maar daar is geen teken van hulle toe ons arriveer nie. Die volgende oomblik stap ʼn glimlaggende jong vrou en ouer man op ons af – pa en dogter – en verwelkom ons gul. Die gebou is binne toe pragtig met marmervloere en ʼn hysbak wat ons opneem na ons vloer. Ons slaapkamer is gerieflik, die plekkie is spotless en mooi, met ʼn balkonnetjie (met die uitsig op die lelike lughawe, maar tog). Die plek is oorlaai met lekker dinge, het ons dadelik gesien. In mandjies is vrugte, allerlei eetgoed, sjokolade en sjampanje. Daar is ook vir ons ʼn geskenkie in die vorm van ʼn glashouer met verleidelike Limoncello gevul! Maar dit was die gemeenskaplike kombuis wat ons monde laat oophang het. Oral was broodjies, koeke en ander eetgoed. Toe sy egter die yskas oopmaak, dog ons ons is nou reg binne-in die lekkerbekhemel: Gepak met lekkernye soos hamme, verskillende kase, bier, wyn, koeldrank, joghurt en self roomys – alles op die huis! Nooit voorheen en nooit daarna het ons sulke (amper oordadige) gasvryheid ervaar nie. Daarby het ons wraggies ook nog ʼn voucher vir ʼn ontbyt by ʼn eetplek onder gekry om die volgende oggend te gebruik. Never judge a book by its cover het hier nuwe betekenis gekry. Die eienaardigste van alles is dat ons op die ou end die minimum geëet en gedrink het. Die ongebruikte vouchers het ons vir hulle op die toonbank gelos. Dan besef ʼn mens weer, twintig jaar gelede sou ons seker daar ingevaar het en ons trommeldik geëet en gedrink het. Op ons ouderdom gebruik mens net wat jy benodig. Heerlike herinnering aan twee fantastiese mense, Carla en Giuseppi Cascino, met enorme groot harte sal ons altyd bybly! http://www.costadamalfiedelcilento.it/ Klik op fotos om onderskrifte te sien.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|