![]() So op Werkersdag dink ek skielik hoe gelukkig ons is om eindelik nie meer afhanklik van die goedkeuring van 'n ouer, baas, onderwyser of enige ander slawedrywer uit ons verlede te wees nie! Ja, daar is nog ouens soos ons gaste, 'n redakteur of twee en die kleinkinders aan wie se eise ons met graagte probeer voldoen, maar die dae dat ons totale bestaan en selfbeeld afgehang het van hoe suksesvol ons volgens ons hoofde se standaarde sou wees, is vir ewig verby, halleluja! Ons is nou wie ons wil wees, kan doen wat ons wil en kan ons eie tempo bepaal presies soos dit ons pas. En toe skep Dineo se stert ons dakplate ... En toe breek die geyser ... En toe word al ons koperwaterpype oornag buitgemaak ... So, ons tempo word skielik bepaal deur "dinge-buite-ons-beheer" - en alles binne 'n maand. Ons is nie dakherstellers nie, ook nie loodgieters nie. Die ou eenoog-donner, Dinge, het geen genade nie en kos ons net geld. Gelukkig het die huisversekering darem die dak help herstel (maar nie die skade wat ons gely het deurdat ons nie gaste kon inneem nie) sowel as die geyser- en installasie betaal. Maar skaars het ons ons rug gedraai Pretoria toe vir twee dae (Henk se visum moet alweer aandag kry) of al ons koperwaterpype word aan die stil kant van die huis afgesteel - vir ons kos dit R2 500, en die koperdiewe sou skaars R100 vir die koper kon kry. Ons is lus en sit 'n bord op wat sê: Aandag liewe koperdief: Kom gerus in en ons gee jou R100 kontant. Los net asseblief ons waterpype uit! Voordat ek nou in 'n hopie selfbejammering ineen krummel wil ek net gou bysê: alles is nou soort van onder beheer. Dis nog net die dak: my bank het die werk vir 'n swembadbesigheid in Nelspruit gegee (moenie vra hoekom nie) en hulle sukkel nog steeds om die laaste druppels reën uit 'n hoekie van ons huis te hou. Die baie hoflike kontrakteur is seker al moedeloos want na elke lekkasie kry hy wéér eens die gewraakte WhatsApp: dit het weer ingelek! Hy is teen dié tyd seker bitterlik spyt dat hy die werk aanvaar het - en ons ook ... Nou besef ek dat my eerste paragraaf belaglik was: nie net is ou Dinge ons baas nie, maar ook die koperdief, die loodgieter, die swembadkontrakteur, en elke donderwolkie op die horison! Want ons mag nie te veel moan nie, mag nie kla oor die fakture nie, moet geduldig wees, anders ... So liewe leser, nou weet ek, niks is ooit definitief of seker nie. Sodra mens té selftevrede raak, sal daai ou Dinge mens daaraan kom herinner dat mens nié in beheer van alles kan wees nie; dat ons almal maar steeds iewers 'n ou skoolhoof of kwaai baas het, al is hulle nou goed vermom. Groete tot volgende keer!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|