En, so vloei die dae en weke aan- en inmekaar … Sommige van julle werk weer, ander sit daagliks tuis en probeer positief voel – hoop ons!
In ons geval is dit sommer beide: Ons werk tuis maar vermy kontak sover moontlik. Ons besef ons val in die meer kwesbare groep en wil onsself beslis nie onnodig blootstel aan die virus nie. Dit is nie altyd maklik nie, soos julle weet. Mens kan maklik geïsoleerd en depressief begin voel. Die surrealiteit van die situasie is soms bitter moeilik om te verwerk wanneer jy dit tog in ʼn winkel waag vir ʼn item wat die afleweraars nie kon vind nie. Jou oë traan later van al die middels op jou hande. Jy begin lighoofdig voel van te min suurstof. Dan stap jy liewer uit, klim terug in jou kar en haal weer asem. Daar sit jy en kyk na die vreemde tonele wat hom hier so in ons eie land ook afspeel. Wie skuil agter die maskers? Watter gesiguitdrukking kruip onder die bont lappie of drielaag-chirurgiese bedekking weg? Watter vrese en hartseer (en soms blydskap) word sodoende mooi netjies vir die buitewêreld weggesteek? En waar is die kinders??? Nêrens stoot ʼn jong ma ʼn stootwaentjie nie. Geen vrolike jong stemmetjies bereik jou ore nie ... Cat Stevens se lirieke: “Where do the children play ...” begin weer eens sin maak. As ons dan verlig ons veilige hawe bereik en alles weer so goed moontlik ontsmet het, begin ons tog weer uitsien na die dag wat alles weer terugkeer na normaal. Ons weet dit kom. Op ons balkon met die helder uitsig, weef ons dan drome van nuwe reise en opwindende avonture, nie slegs in vreemde lande nie, maar ook hier in ons pragtige land. Moenie die droom verloor nie - mens reis nie om van die lewe te ontvlug nie, maar sodat die lewe nie van jou af wegvlug nie! Droom saam – die dag kom!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|