![]() Ons het wakker geword met die verskriklike nuus van die vliegtuig van Maleisië wat afgeskiet is, met 298 passasiers - die helfte van hulle Nederlanders. Die footage op die terrein in die Okraiëne en Schiphol was ontstellend. Mens kan net wonder wanneer gaan die wêreld se oë oop vir die oorloë wat oral plaasvind - dis tyd dat daar ingegryp word, want so kan onskuldige mense nie meer langer ly nie. . Op die tuisfront was dit 'n week vol vordering - die skip, Safmarine Highveld, met die container aan boord trek al daar by Portugal rond, die visumaansoek is ingedien en ek het my ID-kaart gekry. Klink ook vir my ek het 'n kortverhaal verkoop en ek is vuur-en-vlam om 'n artikel af te handel die naweek. Henk het twee ou skilderye op 'n veiling in Den Haag verkoop gekry, en die eiendomsagent het twee mense by sy huis daar gehad - mens kan net duim vashou. Hier by die huis voel ons heel selfvoldaan - ons het die huis ge'springclean' en alles is spiekeries hier by ons - ja, dit was voorwaar een van die beter weke dié vandat ons terug is. Daar is nog heelwat dinge wat nog nie in plek is of duidelik is nie. Ons leef al amper twee jaar met onsekerhede saam, en dis erg uitputtend. Deepak Chopra het nou een dag geskryf oor onsekerhede in die lewe en raad gegee oor hoe om dit te hanteer. Onsekerheid veroorsaak dat mens allerhande scenario's in jou kop begin afspeel oor hoe 'n situasie sal eindig - en dit is alles onnodig as mens onsekerheid net kan aanvaar as deel van die lewe waaroor mens nie beheer kan hê nie. Nou ja, mens kan probeer, né, maar ek doen my bes. Dit help ook om besig te bly. Maar die son skyn tog te heerlik elke dag! As die wind gaan lê later, sal ons die sonsondergang met iets lekkers in die hand op die stoep gaan geniet. Dalk speel ons dan van ons geliefkoosde musiek, soos Buena Vista Social Club met sy lekker Kubaanse ritme, of Césaria Evora met haar nostalgiese klanke. Of dalk nie. Dalk is dit stilte wat ons sal verkies - kom ons sien wat gebeur!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|