![]() Eish ... Ons sit op hete kole! Henk het vanoggend eindelik sy aansoek om die 'spousal visa' gaan indien - ook Holland kan sloer, hoor! Maar dinge lyk baie positief. 'n Moontlike datum word sagkens oor die toonbank gefluister - 22 Junie? So sjjjjjt ... nie te hard praat nie, maar dalk sien ek my ou beer darem oor ses weke weer! Ja die blerrie skeiding is nie 'n grap nie. So sit ons dag vir dag oor Skype en probeer ons bes om mekaar nie te mis nie. Maar dit werk nie goed nie - ek soek hom hier, fisies in ons huisie! Skype is tweedehandse kommunikasie, dit help nou maar nie. Goeie dinge wat hieruit vloei is beslis die feit dat hy weer lekker by sy kinders, kleinkinders en suster-hulle kan kuier daar oorkant. Sover het hy al die kinders gesien en is daar regtig goed ingehaal, einde volgende week gaan hy moontlik dan na Sus Petra en swaer Willem in Giethoorn toe, dan is dit ook weer heerlike geselstye. Daar sal hy die uitslag van die aansoek afwag - gelukkig het hy baie vertaalwerk, so dit gaan hom goed besig hou. Aan my kant was die kuiertjie by die kinders in Pretoria te lekker vir woorde - ek het netbal en rugby gaan kyk, en kwaliteittydjies saam met die kleinkinders deurgebring. Daarna het ek my ma saamgebring en ek en sy kuier al te gesellig hier in Sabie - ons lees, gesels en haal ou koeie uit slote uit - dit doen ons goed! Ek en sy kan baie vredevol saamlewe - sy het weer die boekrak aangetree en is dié keer al op haar tweede Dalene Matthee, sy geniet dit soos altyd. Die dae is sonnig maar effe koel deesdae, tog kan Ma soms lekker buite op die stoep sit met haar boek of haar joernaal waarin sy haar lewensverhaal neerskryf. Ek werk ook aan skryfgoed, het darem heelwat goed weggestuur, en is besig met 'n nuwe artikel. Woensdag het ek en sy 'n heerlike uitstappie Witrivier toe gehad - sy het sélf by Clicks haar toiletware gaan uitsoek en dit was vir haar baie lekker - ek wonder wanneer laas kon sy dit doen? Daarna het ons middagete in die Big Bear Spur gaan geniet - so lekker gesels oor die tafel heen, want so hoor sy mens die beste. Sondag is dit Moedersdag, en dié jaar het ek weer my 92-jarige moeder by my! Ons beplan 'n ete êrens, ons twee moeders so alleen. Ek voel baie geseënd oor die geleentheid, al mis ek my man daar in 'n kouerige Holland-lente. Een van die dae is hy terug, en dan is alles weer honky-dory. Groetnis.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|