![]() Sjoe, maar ons het die laaste agtien dae omtrént rondgerits! Ons is werklik nou kruis en dwars oor en deur Nederland, en ek kon soms nie glo hoe poskaartmooi die land kan wees nie! Plekke besoek het ingesluit: (natuurlik Den Haag en Scheveningen), Maastricht, Nijmegen, Elst, Gorssel, Deventer, Dwarsgracht, Groningen, Schokland, Lelystad en elke stad, dorpie en gehuggie tussenin! Oral is gestop en iets warm te drinke gekry, foto's geneem en rondgestap. Ons treinrit na Gent in België het ook wonderlike oomblikke opgelewer en selfs die vlooines van 'n hotel waarin ons ons vasgeloop het, kon nie ons entoesiasme demp nie en het ons onmiddellik weer vertrek - die tweede keer na 'n pragtige plek in die skaduwee van 'n eeue ou katedraal! Ek het die platteland eindelik behoorlik ervaar, dié keer, en ons het tot op datum al ongeveer 100 km gestap, as mens ons Accupedo-toep kan glo! Verrassings soos eertydse eilandjies wat intussen ingepolder is, die rit 'deur' die Ijselmeer en wandelinge deur egte oeroue woude oortrek van paddastoele, was asembenemend. Die groen, groen, groen van velde met spatsels wit skape of swart en wit koeie, was vir my so pragtig. Natuurlik as Vrystater in die hart sal die baie water my maar altyd oorrompel! Asof die duisende gragte, waterslote en damme oral nie genoeg is nie, doem kilometers wye waters (ongelooflik breë riviere) met groot skepe soms sommer skielik hier reg langs die pad op! Nederland is waarlik pragtig. Heerlikhede wat ons tydens ons reisies ter tafel aangebied is, het ingesluit moderne 'internasionale' geregte maar ook egte Hollandse suurkoolpot en rookwors by skoonsus Petra (onder andere) met daarna, appeltert gemaak van die plaaslike appels - heerlik! By ons aankoms gisteraand na 'n lang dag op die pad, het die geure van Henriët se wonderlike ertesoep my (selferkende sopvraat) onmiddellik knus en welkom laat voel. Lekker pastas, knoffelgarnale, bitterballe en mosterd, kerrie- en ander 'spicy' geregte, smaaklike ontbyte en allerlei lekkernye maak ons kuier hier in dié land nog meer spesiaal. Dankie aan almal - dit word werklik waardeer! Daar word saans wyn geskink (en nou en dan ietsie anders) en gesels dat die biesies bewe. Van banting is daar hier geen sprake nie - ek weet werklik nie hoe mens dit hier sal kan doen nie - so, terug op die wa as ek terug in SA is! Twee heel onverwagte voorvalletjies het vir klippies in die skoen gesorg, helaas. So het ons 'n week of twee volgehoue 'stalking' moes uitstaan. My blog en pos is besoedel, Henk se Linkedin-rekening en e-pos het ook deurgeloop deur 'n galbrakery, vals bewerings en ongevraagde 'raad'. Hieroor kan ek net weer eens sê: ons sal ons NIE laat intimideer nie en die kers wat ek in die St Baafs-katedraal aangesteek het, was spesiaal vir bitter siele wat nie tot rus kan/wil kom nie ... Die tweede geval kan die ironiese Engelse gesegde: "no good deed goes unpunished", werklik perfek raakvat. Dit is regtig teleurstellend om uit te vind dat jy in die verlede, in die naam van 'n nuwe 'vriendskap', net gebruik is. Ek kan my maklik by enige situasie aanpas, maar moet my nie onwelkom en ongemaklik laat voel as ek voorheen uit my pad gegaan het om jou tegemoet te kom en welkom in my huis te laat voel nie! Dit maak my kwaad! Daarby vind ek dit kinderagtig, eng en totaal ongemanierd - magtig man, kan jy jou 'pose' vir nét twee dae hou, dammit? Maar, nou ja, ek beskou dit as nog een lessie om weer te leer: ons huisie-innie-berge se arms is van nou af slegs oop vir diegene wat ons werklik goed gesind is. 'Whatever' ... Ons rus vandag tuis (Den Haag) by die liewe kinders, om batterye weer te laai - ons eie sowel as dié van kameras en selfone. Ons het ongelukkig 'n grieperigheid opgetel maar dit gaan al baie beter met beide. Ek het begin werk aan artikels (my een tydskrifredakteur het laat weet hulle benodig stories), veral terwyl alles nou nog so helder in my gedagtes is. Ek het ook nog hordes opgestapelde materiaal van ander besoeke, maar daaraan kou ek nog. Ons is rustig en tevrede - van môre af trek ons weer die gemaklike steweltjies aan en stap die wêreld verder plat! Die lewe is goed vir ons ...
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|