![]() Mens kry deesdae sommer so 'n ligte kieliegevoel onder die vel - dis amper asof die lente wil-wil aanbreek ... Die dae is lekker en na Europa sal ek seker nie maklik ooit weer ontevrede wees met Suid-Afrikaanse weer nie. Veral hier in ons vallei tussen Mauchsberg en Mount Anderson waar ons beslis die beste weer op aarde het - somer warm maar nie so warm soos in die laeveld nie, en winter net lekker saf, nooit té koud nie. Die laaste maand het verby gevlieg. Ek het lekker geskryf en was suksesvol om vier skryfsels verkoop te kry - dis vir my natuurlik baie lekker dat ek weer 'n paar definitiewe afsetgebiede vir my skryfwerk kon kry en ek voel erg geseënd. Henk weer is besig met navorsing oor sy familiegeskiedenis, en hy geniet dit ook baie. Tussenin werskaf en verf hy in en om die huis. Ons het ook kans gekry om die wildtuin te gaan geniet - dis so naby, ons wil sommer volgende week weer vir 'n dag gaan. Ons was eintlik vies vir onsself dat ons oor 'n naweek gegaan het - dit is so besig dan, en ons kan mos sommer in die week gaan! Maar ons sal sien, ons het nog verf gekoop en hier is nou baie verfwerk om aan te pak. Dis net lekker om in die bos te wees voor dit somer is - die korter gras maak dit makliker om wild raak te sien. Gister het Safmarine Highveld Durban-hawe binnegekom, en hopelik gaan ons container vinnig deur die doeane en kan ons binnekort die goedere hier hê. Ons kan nie heeltemal die huis finaliseer voor alles nie hier is nie, so ons hou ons baie dae besig met onnodige goed ook maar! Die lekkerste was darem om oulike fokuspunte te begin skep - die 'familiemuur' was so lekker om te doen. Teen die muur kom al ons oupas, oumas, ouers en ou familiefoto's wat ons van hou. Die boekrakkie onder sal op die ou end allerhande regtig ou sentimentele goedjies uitstal - van ons albei se kant af. Ook is die hoedeversameling op in die gang, en is ek besig met die ou kameras in die studeerkamer. Henk het ons nuwe platespeler gekonnekteer aan die PC in die sitkamer, so ons het al lekker ou langspeelplate geluister - dit was nou wraggies 'n wonderlike kopie daai!. Ons het nou toegang tot musiek in ons leefruimte soos nooit tevore nie: ons kan CD's speel, radio luister, ou plate speel en sommer direk van internet af musiek luister. Man, dis mos nou die lewe! En wat grawe ons nie alles uit nie: Nat King Cole, Frankie, Ella Fitzgerald, Ames Brothers, ag man noem dit, dis daar, alles horingoud maar wonderlik! Die laaste week het ons nogal altwee baie verlang na Den Haag - na die sagte somerweer wat hulle nou het, die trippies stad-toe of wandelinge op die boulevard langs die see. Ons mis ook die kinders en vriende daar se nabyheid. Wat ons nié na terugverlang nie, is ons beknopte bestaan daar, partykeer kon ons erg engtevrees begin kry. Hier is alles wyd en oop, mens sien ver, en ons waardeer dit. Die heerlike atmosfeer en karakter van my geliefde Hollandse stad mis ek egter baie keer, en ek hoop van harte dat ons volgende jaar weer daar kan gaan kuier. Intussen gaan die lewe voort, ons is gelukkig en dinge val mooi in plek. Ons wag nog net in spanning om te hoor of Henk se 4 jaar pensioenvisum goedgekeur is - ons het regtig goeie hoop dat dit sal uitwerk. Vir dié wat hier lees: hou asb duimvas! Maar ja, daar is amper geen rede om nie die lewe elke dag ten volle te geniet nie - en ons doen presies dit!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|