Verlede jaar dié tyd het ons begin inpak om van die Platorand af Pretoria toe te trek. Nou pak ons alweer om na 'n groter plek in 'n veiligheidskompleks te verhuis. Gelukkig is die helfte van alle 'spullen' steeds in bokse. Maar, waar is die jaar heen? Alles hier het volgens plan gewerk en ons is tevrede met die jaar wat verby is. Ons besigheid gaan van krag tot krag en in die nuwe plek het ons 'n heerlike, groot kantoor waar ons lekker sal kan werk. Ons geniet die samesyn met kinders, familie en vriende - teen dié tyd weet ons dat vir ons is dit tog maar belangiker as 'n alleenbestaan doer ver in die mooi wêreld. Daarby het ons nuwe plek 'n lieflike uitsig - ons gaan hier in die groot stad kan lewe, wat. Die beste van alles in die stad, vir 'n liederike lui kok soos ek, is die toegang tot lekker kos oral. Soms sommer 'n bakkie met lekker skaapboudskywe met sous by Dely Spar vir my - vir Henk dalk 'n pepper steak of pastagereg. En oral is groente eetgereed! Tuis is dit meestal net 'n vleiserigheid met slaai, of vis en aartappels. En Uber Eats se ouens ken dié adres uit hul koppe uit!
By ons nuwe plekkie gaan die braai ook weer 'n ereplek kry en dan, belowe ons onsself, gaan ons weer gesonder begin eet! Ons moet fikser en gesond wees teen April vir ons strawwe reisprogram in Nederland! Tussen pak en werk, het ek darem weer aan't skryf gegaan en twee artikels is aanvaar vir publikasie: Een in Beeld en die ander in Plus50. Ek sal datums laat weet. Ek kry onttrekkingsimptome as ek nie skryf nie. En dit kan erg raak, glo my: Ek dwaal rond, ek tik met my vingers op stoelleunings, met voete op die mat. Ek is permanent honger; my binnegoed begin bewerig voel ... So aanvaar ek nou maar eenmaal, skryf is vir my 'n noodsaaklikheid. Toe ek vir een kind vertel van 'n nuwe boek wat boonop beplan word, reken sy my: "Jimmil, Ma is wraggies ook maar ADD!" Ja my kind, Ma raak gou verveeld en dan moet nuwe dinge gedoen word ... Straf of geskenk, dit is wat dit is.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|