![]() Kyk, in my lewe het ek nooit kon dink dat my horingou lieweheksiehuisie op die bult nog eendag vir my waardevol gaan wees nie! Ek het die plek sestien jaar gelede gekoop net voordat die huismark mal geword het. Toe ek en Henk drie jaar gelede uit Holland hier aangekom het, het my moed in my skoene gesak: die plek is deur huurders verwaarloos en verniel, die tuin in 'n toestand. Ek wou sommer dadelik handdoek ingooi. "Kom ons verkoop," het ek desperaat uitgeroep, maar Henk het sy kop geskud. "Nie voordat ons dit eers bietjie reggeruk het nie." En so doen ons toe ook. Ons werk nou al vir drie jaar (met tussenposes) daaraan om die plekkie te verbeter en gesellig te probeer inrig met ons paar stukkies meubels en sentimentele dingetjies saamgegooi in een leë dop. Met elke stap het nuwe idees gekom. Met elke nuwe idee is planne beraam en geld afgeknyp om dit te verwesentlik. Eindelik het ons die woeste tuin effens getem en twee ongebruikte slaapkamers in selfsorg-gastekamers omskep (gaan kliek gerus op LekkeSlaap om ons aanbod te bekyk by https://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/bietjieslaap). Amper 'n jaar gelede kon ons die kamers begin verhuur. Dit gaan soms baie goed, soms is dit stil maar ons bly besig met klein verbeterings, dalk nuwe handdoeke of 'n bykomstigheid hier en daar. En nou, gou, voor Desembervakansie, beoog ons 'n geboude braai buite vir gaste se gebruik. En ons geniet ons gate uit! Daarby raak ons reisspaarvark se pens steeds voller (ons jeuk nou maar eenmaal gedurig om nuwe avonture te gaan belewe al is ons beursie maar dun) en kon onlangs kaartjies bekostig na 'n heerlike bestemming aanstaande jaar (later meer hieroor). Nou werk ons dat dit klap om daar anderkant vir die ander uitgawes soos verblyf, vervoer en etes te spaar. Elke keer as daar 'n mail inkom spring ons soos flinke jongelinge op want hopelik is dit 'n nuwe bespreking! Ons het nog plek vir Desember maar glo kinderlik positief dat ons vol gaan wees ... Ek skryf artikels vir Afrika, Henk is besig met sy verkope op internet, ons het ons uitetery drasties ingekort en te veel rondry is vir eers taboe. Want, ons het baie planne, 'n hoop idees, sakke vol drome ... Dan beskou ek ons ou beskeie wit huisie meteens met nuwe oë: dan was hy tog eindelik 'n ware belegging en nie net 'n bal aan die been nie? Met sy hulp kan ek en my lieverd ons lewens steeds voller prop met nuwe ervarings vir daai dag wat ons tot ruste wil kom; kan ons voel ons het die heel meeste van ons beperkte tyd saam gemaak. Dankie, liewe Huis.
1 Comment
|
Argiewe
July 2020
|