Paulus Potter-huis Oulike stillewe in die Potter-huis De Paas met 'ons' huis bo ![]() Pas 'n maand hier in Den Haag en ons tyd raak reeds min. Enersyds is ek spyt, andersyds mis ek my geriewe in SA. Ons het deur airbnb ongelukkig 'n hengse fout gemaak met blyplek dié keer - weer eens MOENIE die foto's van blyplekke 100% glo nie! Maar ons vertrek gelukkig binnekort op 'n roadtrippie en begin reeds uitsien daarna - ons werk nog net laastens en dan is ons weg! Sit ons so nou die aand by De Paas, ons 2012-blyplek se bootkroeg in die Dunne Bierkade, en kan ons nie anders as om terug te dink aan daardie jaar toe ons mekaar weer ontmoet het nie. Dieselfde seisoen en datums soos nou, dieselfde skakerings van herfskleure, dieselfde atmosfeer. As toegif kon ons verlede week ons eertydse museumhuis saam met 'n begeleide toer weer gaan besoek! Ons het deelgeneem aan die Buitenmuseum se aanbieding oor die Goue Eeu se een skilder, Jan Steen in die Paulus Potter-huis en dit het 'n toer deur die Van Goyen-huis ingesluit. (Jan Steen was Van Goyen se skoonseun.) Ja, daar is die knus antieke bedstee natuurlik toe steeds - kraalogies-porseleinpop by die koppenent soos ook sewe jaar terug. Dáár het ons met ons skootrekenaars gesit, dáár het ons kosgemaak ... dáár het ons die gedaante gesien! (Die ander gaste én toerleier het ons vertelling van die geestelike verskyning verskriklik geniet! Ons is seker ons storie gaan van nou af tydens museumtoere vertel word.) Goed wat ek weer sal mis as ons tuis is, is beslis die gerief van 'n trem, soos altyd, liplekker kaas, sop, bitterballen en ander Nederlandse eetgoed. Die grou ou Noordsee het 'n spesiale plek in my hart en ek sal uitsien om oor ses maande weer oor hom te kom tuur. Die beeldskone tonele wat ek op kamera kan vaslê, my geliefde bloue Delft en die baie water oral, mis ek altyd weer as ek weg is hier. Mooi vir my is ook my ou Lief se blywees om terug in sy land te wees, sy kinders weer te sien en in sy eie taal te kan kommunikeer. (Vir my is die teenoorgestelde waar - ek mis Afrikaans praat en om dadelik verstaan te word.) Dinge wat ek nié gaan mis nie, is beslis die ongeduldige fietsryers, die blou kolle opgedoen deur van die fiets af te donner, die ver afstande stap (adres was verkeerd op airbnb) en die duur wyn! Die hoë pryse van alles as dit in Rand omgeskakel word, is ook vir my baie stresvol - dit is so ongelooflik duur om in Holland 'n bestaan te voer. Jip, soos alles in die lewe, is daar give and take. Ons kan onsself nie van een van ons twee lande af losmaak nie - die (emosionele) prys sal té hoog wees. Ek brand reeds om terug tuis naby die kinders te wees en die Lente te gaan geniet; Henk mis sy nepkindertjies ook, maar ook sy ou Subaru en die bekostigbaarheid van alles daar - ook die son en braai, natuurlik. Ek groet eers vanuit 'n grouerige Den Haag - daar is tog bietjie blou in die lug, maar nog nie genoeg vir 'n matroospakkie nie! Tot volgende keer, Stephanie
0 Comments
|
Argiewe
July 2020
|