![]() Vanoggend toe ek in ons eie bed wakker word, die gordyne ooptrek om my rusgewende omgewing die kamer in te laat straal, was ek tog so bly. Oos, wes, tuis bes, toch? Ons het wonderlike tye tydens ons 'roadtrip' saam met die kinders van Nederland, Sjoerd en Henriët, gehad: die Kaap was weer Hollands, man! My mooiste herinneringe sluit in die tye saam met my man en die jong mense, gesellig om 'n tafel waar ons na mooi musiek luister ('live' by Quay 4 by die Waterfront) terwyl ons 'n plek se spesialiteite probeer; ons reis deur die mooiste omgewings in die wêreld; klein plesiertjies soos die koop van 'n skulphart by 'n straatkind in Paternoster; skulpe optel op die pikkewynestrand van Simonstad of die smul aan skaapstertjies in die Karoo. Voeg daarby die koue rillings (weer eens) in Helen Martins se Uilhuis, die hemelse ontbyt met roosterkoek by Hansie en Grietjie-padstal naby Vleesbaai en die herontdekking van Fransmanshoek, en mens begin al 'n halwe prentjie weergee. En dan ... om vroegoggend mooie ou Tafelberg vanuit ons bed daar in Blouberg gade te kon slaan, hoe 'beat' mens dit??? Die minder goeie van die reis sal seker dan die goor verblyf in Mosselbaai wees - regtig nie op standaard nie: aaklige beddens (enkel daarby), nie heeltemal skoon nie - en die feit dat dieselfde dorp TOE was toe ons Saterdag daar aankom, het nie gehelp nie. Ons kon nie eers 'n bottel wyn of 'n bier gekoop kry nie, en Sondag was dit dieselfde storie. Wat gaan aan daar? Selfs in ons klein dorpie het mens elke liewe dag toegang tot alles. Dit was heel teleurstellend, maar tog maar ons eie skuld: moes beter voorsorg getref het. Die Kapenaars sal seker nou in hulle mou vir ons lag, want vir ons was die wind darem besonder heftig oral waar ons was. Dalk was dit die tyd van die jaar, of dalk was ons net ongelukkig, maar gisteraand terug hier op ons Gecko Lounge het ons vir die eerste keer in agt dae weer 'n windstil dag ervaar - héérlik! En so van die Kapenaars gepraat, en sommer die Vrystaters ook: neem ons nie kwalik dat ons nie kon kuier dié keer nie, asseblief: ons moes duisende kilometer in 'n heeltemal té kort tyd aflê om binne ons reismaats se skedule te pas. Die vinnige aandoen by elke bestemming was goed, maar tog uitputtend aangesien ons sommige dae tot 10 ure op die pad was. Die kanse is goed dat ons in Desember weer Kaap toe gaan (daar is 'n troue wat ons graag wil bywoon!) en dan reël ons beter. Vandag rus ons, was wasgoed vir Afrika en beplan ons trippie wildtuin toe môre - die jonges vier môre hulle eerste huweliksherdenking saam met ons daar in die bos (ons was verlede jaar Holland toe vir die okkasie, so dit is baie spesiaal vir ons almal). Daarna, terug tuis vanwaar hulle ons omgewing sal gaan ontdek terwyl ons terug in ons eie roetine kom. Oukei, laaste maar NIE die minste nie, oor die troue in Desember: Henk se oudste seun, Roderik, trou in Desember met 'n Afrikaanse meisie, Maryna, doer in die Kaap! Hy het haar in Junie, toe hy by ons gekuier het, by my Melanie se troue ontmoet en die twee het halsoorkop verlief geraak! Nou vra ek julle, hoe kan mens dan nou nié aan sprokies glo nie? Tot volgende keer weer!
1 Comment
![]() September sal altyd vir my 'n spesiale maand wees. Ek en Henk het mekaar vier jaar gelede vir die eerste keer weer in September gesien, na veertig jaar. Die afgelope jaar was dit die langste aaneenlopende tyd wat ons nog saam spandeer het. Ons was slegs een maand die afgelope jaar in Holland, verder was ons hier, besig om ons lewe in Suid-Afrika te begin opbou. Dit was vir my erg frustrerend toe ek vroeër die jaar my blog moes prysgee. Die rede was 'stalking' en ek was net moeg vir die ongevraagde en evil kommentaar op ons bedrywighede. Ons het onlangs besluit om die naam van die site te verander, nie ons van iewers by te sit nie, om dan hopelik in vrede ons blad weer te kan geniet. So, hallo weer, almal! Ek is nog besig om die foto's ook uit te soek wat by die ou blogs was, want dit is vir my self ook so 'n heerlike reis terug na die begin van my en Henk se herontmoeting – die foto's illustreer my gewaarwordinge partykeer beter as paragrawe vol letters. Ongelukkig kon ek nie die kommentaar op die blog herwin nie, maar dit is nou wat dit is. Ons het so 'n bedrywige paar maande agter die blad sodat ek wonder of ek ooit kans sou kon kry vir die blog. In kort: •Mei: Henk val en breek sy arm, hospitaal toe vir amper een week, en maande se eina-tye ... •Junie: Henk se oudste seun kom kuier en ons ry rond, Vrystaatplaas toe, wildtuin toe, ens. •Junie: Melanie trou in Kaapsehoop en dié moeder van die bruid het baie om te doen! •Julie: My een projek is afgehandel – nou is dit wag, wag, wag •Augustus: Nuwe kleinseun word in Holland gebore •September: Ma kuier by ons en dit hou sy eie uitdagings in – veral die stortery en om die regte kos vir haar te maak. •September: Ons sien uit na ons Dikhololo-naweek saam met my kids. •September: Kinders van Holland kom kuier en ons beplan ons roadtrip saam met hulle. Intussen het ek heelwat artikels gepubliseer gekry en Henk se FB-winkel begin mooi bykom; veral die boeke wat hy op die auction-bladsye verkoop. Verder werk ons in die tuin en kry goed gereed vir ons gaste. Aftree? Wat beteken daai woord? ;-) Tot volgende keer! |
Argiewe
July 2020
|