![]() Ons het wakker geword met die verskriklike nuus van die vliegtuig van Maleisië wat afgeskiet is, met 298 passasiers - die helfte van hulle Nederlanders. Die footage op die terrein in die Okraiëne en Schiphol was ontstellend. Mens kan net wonder wanneer gaan die wêreld se oë oop vir die oorloë wat oral plaasvind - dis tyd dat daar ingegryp word, want so kan onskuldige mense nie meer langer ly nie. . Op die tuisfront was dit 'n week vol vordering - die skip, Safmarine Highveld, met die container aan boord trek al daar by Portugal rond, die visumaansoek is ingedien en ek het my ID-kaart gekry. Klink ook vir my ek het 'n kortverhaal verkoop en ek is vuur-en-vlam om 'n artikel af te handel die naweek. Henk het twee ou skilderye op 'n veiling in Den Haag verkoop gekry, en die eiendomsagent het twee mense by sy huis daar gehad - mens kan net duim vashou. Hier by die huis voel ons heel selfvoldaan - ons het die huis ge'springclean' en alles is spiekeries hier by ons - ja, dit was voorwaar een van die beter weke dié vandat ons terug is. Daar is nog heelwat dinge wat nog nie in plek is of duidelik is nie. Ons leef al amper twee jaar met onsekerhede saam, en dis erg uitputtend. Deepak Chopra het nou een dag geskryf oor onsekerhede in die lewe en raad gegee oor hoe om dit te hanteer. Onsekerheid veroorsaak dat mens allerhande scenario's in jou kop begin afspeel oor hoe 'n situasie sal eindig - en dit is alles onnodig as mens onsekerheid net kan aanvaar as deel van die lewe waaroor mens nie beheer kan hê nie. Nou ja, mens kan probeer, né, maar ek doen my bes. Dit help ook om besig te bly. Maar die son skyn tog te heerlik elke dag! As die wind gaan lê later, sal ons die sonsondergang met iets lekkers in die hand op die stoep gaan geniet. Dalk speel ons dan van ons geliefkoosde musiek, soos Buena Vista Social Club met sy lekker Kubaanse ritme, of Césaria Evora met haar nostalgiese klanke. Of dalk nie. Dalk is dit stilte wat ons sal verkies - kom ons sien wat gebeur!
0 Comments
![]() En my Witrivier-kinders trek Pretoria toe. Ons het hulle so geniet vandat ons weer terug is - vinnige inloertjies, etes en skoonseun Willie wat, gewapen met alle soorte gereedskap, hier hand kom bysit om ons skewe veiligheidshekke weer reguit en reg te kom maak. Lekker om hulp te hê. Sondag het ek 'n hoenderpastei aanmekaar geslaan en ons is weg na hulle 'plasie' toe waar ons vir laas saam met die kleinkinders daar kon kuier - hulle is op pad na ander ouma toe tot die trekkery agter die rug is. Die bokse in die huis herinner ons aan die feit dat hier ingepak word vir die groot trek oor 10 dae - en die gedagte daaraan is nogal oorheersend. Die dag was heerlik daar op die lekker stoep met die winterson wat helder skyn. Ons kuier vir laas saam met lekker kos en 'n glasie wyn en praat oor die lekker tye wat ons daar saam geniet het. Ons is baie bly vir hulle oor die nuwe uitdagings wat voorlê, en mens weet tog dat die stad soveel meer geleenthede bied as die laeveld. Dit is die einde van 'n era vir hulle én ons wat hier alleen agterbly. Hulle het heerlike dae op die plasie gehad - die ganse, tarentale en hoenders het bygedra tot die lekker ou plaasatmosfeer, en my ma het dit veral baie daar geniet. Die kinders het soveel vryheid daar gehad en kon die hele wêreld vol op hul fietse ry of hardloop. Hulle het regte plaaskindertjies geword - en dit is wonderlik! Sondag toe ons vir laas die hek uitry, met die kinders op hul fietse om die hek met die remote vir ons oop te maak, kyk ek so na hulle met 'n knop in die keel - so sal ek hulle nie weer daar op die plasie sien nie. Maar, hulle is almal so sorgvry en gelukkig - en baie opgewonde oor die nuwe lewe wat vir hulle in die groot stad voorlê. En ons ry hartseer maar ook met vrede in ons harte terug Sabie-toe. |
Argiewe
July 2020
|