Rimpeleffek
  • Tuisblad
  • Wie 's ons
  • RAPPARD REISE
  • Die Rooi Trem
    • Bestel ons boek, geteken
  • Artikels
  • Reisgedagtes
  • Kontak ons
Stef se Blog



Vlamme en suikerbekkies red my siel

25/6/2014

0 Comments

 
Picture
Ry ons toe nou gister Nelspruit (Mbombela) toe met een taak in gedagte - om aansoek te gaan doen vir Henk se pensioenvisum. Hy het in Holland al die nodige dokumente gekry wat nodig sal wees daarvoor, soos medies-, polisie- en werkdoks wat ingedien moet word.

Daar gekom (60km van ons af), moet ons toe nou uitvind dat Binnelandse Sake sedert 23 Mei dié jaar nie meer met permitte of visums werk nie. Daar is nou 'n agentskap wat dit doen. Die verskil in rand is omtrent R1000. En nou moet mens eers op hule webblad aansoek doen, dan 'n afspraak maak en dan hoop vir die beste. Ons is senuweeagtig hieroor want hy het tans net 'n gewone drie maande permit en ons is nou al vyf weke terug. Die permit vir afgetredenes is 4 jaar geldig waarna hy vir permanente verblyf kan aansoek doen. Maar die geheen-en-weer vlieëry kos ons te veel, en ons wil dit vir die res van dié jaar ten minste, vermy.

So daar is ons toe nou bekaf weg, en gaan drentel toe maar by Builders Warehouse en Checkers rond om huisdinge te kry. Ons het darem 'n tuinslang gekoop, aangesien ons sin verdwyn het, en ook 'n goedkoop braai vir 'n vuurtjie in die aande op die stoep. Ons gasbraai doen die braaiwerk maar ons mis vlamme.

So gisteraand het ons toe die vuurtjie aangesteek en lekker in die vlammetjies gestaar, idees uitgeruil oor kleure en ontwerpe vir ons huisie se nuwe baadjie, toe sommer vinnig rashers en braaibroodjies gebraai en vroeg gaan slaap. Twee uur in die nag was ek wawyd wakker en het die een fliek na die ander gelê en kyk, en glad nie weer geslaap nie. Dit raak nou normaal vir ons - ons kan nie langer as 6 ure slaap nie, dan is dit verby! Ongelukkig is mens dan al teen 7 uur soggens vrek moeg, nee kyk, dis irriterend!

Ek is moedeloos oor die ratte wat so vashaak met omtrent elke blerrie ding wat ons moet deur. Daar is steeds onafgehandelde goed in Holland ook. Dit voel vir my hulle is maar net so useless met sekere goed soos ons hier in SA. My geduld word wragtig so-o-o-o-o beproef!

En die suikerbekkie wat die soet sappies hier uit die groot strelitziablom voor die venster kom suig, slaag darem daarin om my op te beur - ook maar 'n genade vir 'n ongeduldige mens soos ek!




0 Comments

Sigeunerdae vir eers opsy

18/6/2014

0 Comments

 
Die laaste twee jaar het ons geswerf van plek-tot-plek en ek dink dit het sy tol geëis - want ons is moeg. As ek nou net kyk waar ons oral gebly het dan kan ek dit goed verstaan.

So het dit gegaan:


Van Sabie en Burgemeester Patijnlaan 
na die Van Goyen-huis Den Haag, na die Vissershuisie in Scheveningen, na die appartementje in Seinpostduin, na die huisie in Nautilusbaai naby Mosselbaai, na die grotjie in Gevers Deynootweg, Scheveningen, en terug na
Sabie! Met pitstoppe in Pretoria, Witrivier en Den Haag by verskillende kinders.

En elke keer is dit uitpak, uitsorteer, inpak, wegpak, skoonmaak en vertrek! Dis mos verskriklik uitputtend, man!

Dan is dit vertrek per trem, trein, vliegtuig, bus, motor en met swaar tasse en handbagasie wat met moeite kilometers ver ten tyde van oorstappe op die verskillende lughawens aangesleep moet word - en gewoonlik in alle haas! En wie kan in 'n vliegtuig slaap?

So eindelik kom ons tot rus hier inniehuisieoppiekoppie. Maar ons stap toe nie net in en kan rus nie, nee, ons moet ons alies afwerk om dit leefbaar te kry en in te settle.

En nou na presies een maand begin ons eers regtig rus vind. Die sonsopkoms soggens en die heerlike windstil dae is elke dag weer iets om voor dankbaar te wees na lang tye van koue weer en weerbarstige winde wat nie net in Holland nie, maar ook in die Tuinroete ons koppe en siele heeltemal deurmekaar gewaai het. Ons kry nou kans om lekker dingetjies in en om die huis ook te doen, nie net 'damage control' toe te pas nie. Henk potter in die tuin rond en verf, en geniet dit, en ek skryf en geniet dit, so ons rus elkeen op sy eie manier al te lekker op die oomblik.

Eindelik is ons tuis en kan ons net
uitademen!


0 Comments

En winter is darem mellow hier

15/6/2014

0 Comments

 
Dis Vadersdag én broer Johan se verjaarsdag vandag. Die dag is weer pragtig. Ons het vanoggend nog min gedoen want rus bietjie na 'n besige en stresvolle week.

Ja, dit is darem heerlike weer wat ons hier in die laeveld geniet. Daar het nog nie een dag verbygegaan sedert ons terug is hier, dat ons nie ten minste een of twee ure per dag op die stoep sit en die uitsig geniet nie. Die blouapies het ook al kom groet en ons kan ons verkyk aan die pragtige herfskleure wat elke dag verander soos meer blare afwarrel.

Gister het ons die ou bekende sonnige stoepie behoorlik weer ingewy met ons goeie vriende Tina en Gary wat kom inloer het, en die Witrivier-kinders en kleinkinders wat kom kuier het. Sjampanje met lemoensap en lekker eetgoedjies het bygedra tot 'n luilekker middag. Verlede week het broer Chris, Helene en haar ouers hier ingeloer - dit was ook 'n lekker verrassing. Ons ou huisie is nog erg kaal en deurmekaar, maar ons vorder stadig maar seker en al die vriendelike en vrolike energie en lekker musiek waarmee die huis gereeld gevul word, help baie om ons tuis te laat voel.

En ons braai elke tweede dag! Die gasbraai met die 'hot rocks' wat ons in Mosselbaai onder verdagte omstandighede gekoop het, werk soos 'n bom vir ons! Henk is al 'n ekspert met braai, glo my! Ek het lekker varktjoppies uitgehaal en hulle gaan NOU gebraai word. Dan bietjie rus voordat Letitia en Herman van Nelspruit kom oë wys - gaan heerlik wees om hulle weer te sien!

Lekker Sondag vir almal, veral alle pappas, vaders, dad's, pap's en sommer ou toppies!  Julle word waardeer, hoor!



0 Comments

    Argiewe

    July 2020
    June 2020
    April 2020
    November 2019
    September 2019
    August 2019
    July 2019
    June 2019
    September 2018
    July 2018
    February 2018
    January 2018
    November 2017
    October 2017
    June 2017
    May 2017
    April 2017
    December 2016
    October 2016
    September 2016
    March 2016
    February 2016
    January 2016
    November 2015
    October 2015
    September 2015
    July 2015
    June 2015
    May 2015
    March 2015
    February 2015
    November 2014
    October 2014
    September 2014
    August 2014
    July 2014
    June 2014
    May 2014
    April 2014
    March 2014
    October 2013
    September 2013
    August 2013

    RSS Feed

  • Tuisblad
  • Wie 's ons
  • RAPPARD REISE
  • Die Rooi Trem
    • Bestel ons boek, geteken
  • Artikels
  • Reisgedagtes
  • Kontak ons