Rimpeleffek
  • Tuisblad
  • Wie 's ons
  • RAPPARD REISE
  • Die Rooi Trem
    • Bestel ons boek, geteken
  • Artikels
  • Reisgedagtes
  • Kontak ons
Stef se Blog



Laaste mooi dae

19/5/2014

0 Comments

 
Picture
Ons het baie televisie gekyk hier in ons grot van Maart af. Moet nou nie lag nie, maar ek het nou die laaste twee maande al te lekker na horingou TV-series gekyk - en dit geniet! Ek praat nou van 'Murder she wrote', 'Columbo', ens. Ons het ook soveel CSI's en Law and Order's gesien, ek sal dit skoon mis as ons weg is! BBC se 'Silk' en 'Waking the Dead' bly ook van my gunstelinge, en ek weet darem ons kan dit in SA ook te siene kry, soos ook CSI, ens.

Ook het ons 'n oorvloed van kosprogramme gekry, en was vasgenael om die wenners van Masterchef Holland, Masterchef New Zealand en My Kitchen Rules te sien. Gelukkig het alles nou mooi geëindig voor ons vertrek!

Dan die nagtelike spookstories, paranormale goed en scary movies - was tog baie pret! In die oggend kyk ons na die RTL4 nuusprogram, daarna Dr Phil en dan volg Koffietijd, 'n kuierprogram vir  verveelde mense, maar tog ook baie positief en vrolik. Sodra dit opkom, weet ons dis tyd om lewe te kry vir die dag.

Want ja, dis nog min slapies dan vlieg ek. Na hoevele terugslae die laaste maande wat datums van beslissings betref, kry ons toe nog een verlede week, en is alles alweer vir nog 'n week uitgestel. Dié keer weier ons om ons verder te laat manipuleer en van nou af moet die regsmense die goed maar hanteer - my liefie vlieg Maandag en klaar (kon nie saam plek kry nie, sad but true).

En die container is gereël, tasse half gepak, en nou hoop ek om nog in Delft uit te kom die week! 'n Wandeling in Clingendael is ook aan die orde van die dag, en ek begin ook maar hartseer voel oor ons amper moet groet hier. Ek gaan almal en alles hier baie mis, maar ek voel bly want ons het sterk bande gebou hier waarop ons nou kan voortbou as ons weg is dmv sosiale media, Skype en e-pos.En hopelik heelwat kuiertjies daar en hier in die toekoms!

Ek is darem verskriklik bly ook dat ek my kinders, kleinkinders en ma gou weer gaan sien. Ek mis daai ou liefies darem erg, én ek het 'n dogter wat 'n nuwe lewetjie in haar dra om te gaan knuffel!



0 Comments

In die pylvak

12/5/2014

0 Comments

 
Picture
Nou pak ek vanoggend ewe moedig my voortgesette navorsing vir 'n artikel aan, en my gedagtes begin maar net weer afdwaal. Ai tog! Ek is 90% klaar met my stuk, maar moet nou eers hier ook iets neerpen! Ek het die konsentrasievermoë van 'n swanger huisvlieg deesdae.

Die laaste 10 dae hier word nou in detail beplan. Elke dag is vol - dit wissel van afskeidkuiertjies by die kinders, dringende sake wat afgehandel moet word en moontlike finale uitstappies (Delft bly op my agenda, want ons moet nog klompies en stroopwafels vir almal tuis kry, hehehe). Ons het geen tyd om te verspeel nie. Vandag is amper die laaste dag wat ons soort van vir onsself het - en ook maar net omdat ons wag vir terugvoer van die verhuisingsmaatskappye af. Dit sal ons help om die bokse reg of oor te pak, en finaal te weet hoeveel plek daar in die container gaan wees, en teen watter tarief.

Dit is kouerig hier (13 grade) - wel vir die laaste twee weke al, mét heelwat reën ook. Ons begeer dit om die Japanse tuin by Clingendael te gaan bekyk, maar die weer laat dit net nie toe nie. Hier vanuit die grot sien ek doer bo (waar die enigste lig na buite is), dat dit vandag bewolk is, nes die weervoorspelling gesê het dit gaan wees. Dis heel knus hier binne, gelukkig. Ons is al twee besig op ons laptops met Midvliet, een van die lokale televisieprogramme, in die agtergrond aan. En wraggies, skielik is daar 'n pragtige insetsel op oor die einste Japanse tuin wat ons so graag wil sien! Nou ja, dalk is dit 'n teken ...

Ek het nooit besef hoe intens ek die visuele benodig in my lewe nie - totdat ons hier in die grotjie (hoewel modern en pragtig ingerig) beland het nie! Ek het engtevrees hier, voel ek kan partykeer nie asemhaal nie. Ons droom drome en sien gesigte van ons toekoms vorentoe. Elke dag beplan, bedink en besin ons oor die nuwe uitdagings wat voorlê. Ons verlang na die stoep in Sabie, waar mens dwarsdeur die jaar 'n vleisie kan braai en die uitsig geniet. Ook om wakker te word met jou eerste blik in die oggend op die berge, waaroor die son stadig kruip.

Ja, dis tyd om huis toe te gaan.




0 Comments

Sondag blues

5/5/2014

0 Comments

 
Picture
As ek nou iets geleer het die laaste twee jaar, is dit dat kulture waarlik verskil, maar mense maar oral baie dieselfde is. Ook het ek vrede gemaak met die feit dat ek nie noodwendig ooit sal verstaan hoe die dinamiek tussen ander gesinne en families werk nie - om die waarheid te sê, verstaan mens nét jou eie, dit weet ek nou.

Ons twee het die moeiliker kultuurverskilletjies vinnig uit die weg gekry en gefokus op ons as mense -  en ek moet sê, die verskille tussen ons is nie 'n klip in die skoen nie, maar sorg eerder vir baie oulike oomblikke en baie stof vir ontleding en urelange gesprekke.

Soos ons tale:  ons voertaal is Afrikaans en hy het die taal so vinnig weer opgetel na 40 jaar, dit is net te ongelooflik. Ek kom agter dat ek tog baie uitdrukkings en woorde wat tipies Nederlands is, in ons gesprekke gebruik. Afrikaans en Nederlands is so na aan mekaar, maar kan tog ook vir misverstande sorg. Hy lag hom partykeer vrek vir ons oulike gesegdes, en daagliks kom 'n nuwe een uit, wat my dan ook laat glimlag as ek dit deur sy ore hoor.  Soos, 'kuier 'n hond uit 'n bos uit', byvoorbeeld - vir ons alledaags, maar hy lag vir die prentjie wat hy sien - en dan giggel ons lekker saam.

Verder oor die taal: die gemiddelde Hollander kan glad nie verstaan wat ek sê nie - gelukkig kom ek al goed reg met 'n paar van die familielede. Dit het te doen met ons Afrikaanse uitspraak, wat dalk meer binnensmonds is as die Hollanders se breë gebruik van die mond en harder en 'platter' uitspreek van hulle a's en e's byvoorbeeld. Dit is natuurlik 'n frustrasie want dit voel vir my ek kan myself nie regtig uitdruk nie, wat dit tog moeilik maak vir mense om my te leer ken. Ek weer, verstaan elke woord wat hulle praat, maar ek bly maar baie kere stil en is nie deel van 'n gesprek nie omdat ek dit vir hulle gun om lekker te gesels sonder om met moeite na my te moet luister. Ek het ook met een van die seuns in Engels begin kommunikeer, en ek dink dit was 'n beter idee.

Hier is dit ook nodig om streng volgens afsprake te sosialiseer, met familie en kinders ook. Moenie dink jy kan sommer net êrens inval nie - nee, dit moet lank voor die tyd gereël word. Dit is vir my nogal 'n aanpassing omdat ons meer informeel in SA is. So kon ons tot op hede, nog nie afsprake met een of twee van die kinders vasmaak nie, en dit lyk of daar van hulle is wat ons nie gaan sien voor ons teruggaan nie. Dis jammer, want eendag sal hulle besef dat hul pa nou 13 000 km ver sit, en dan gaan hulle spyt wees dat hulle nie tyd vir hom kon inruim in hulle besige skedules nie. En ek probeer nie nou bitter klink nie, maar vind dit regtig hartseer.

Goddank vir die liefde en ondersteuning wat ons tog so mildelik hier van die meerderheid van die familie ontvang. Dit is voorwaar fantasties. Die seuns help trek en pak, sus Petra bied aan om te help as ons weg is met verkope, ons het uitnodigings na etes wat voorlê, en die Whatsapp's vlieg tussen ons. En dit is so lekker en ek weet ons kan net bou op hierdie verhoudings, selfs al is ons ver. Amper almal van hulle wil nou Suid-Afrika graag kom besoek, en ons hoop om hulle daarmee te kan help.

Ek besef ook dat dit wat ek dalk as negatief ervaar dalk ook maar net weer deel is van die dinamiek tussen mense wat ek nie kan verstaan nie ... En ek beweeg aan, ek kan niks daaraan verander nie. Punt.




0 Comments

    Argiewe

    July 2020
    June 2020
    April 2020
    November 2019
    September 2019
    August 2019
    July 2019
    June 2019
    September 2018
    July 2018
    February 2018
    January 2018
    November 2017
    October 2017
    June 2017
    May 2017
    April 2017
    December 2016
    October 2016
    September 2016
    March 2016
    February 2016
    January 2016
    November 2015
    October 2015
    September 2015
    July 2015
    June 2015
    May 2015
    March 2015
    February 2015
    November 2014
    October 2014
    September 2014
    August 2014
    July 2014
    June 2014
    May 2014
    April 2014
    March 2014
    October 2013
    September 2013
    August 2013

    RSS Feed

  • Tuisblad
  • Wie 's ons
  • RAPPARD REISE
  • Die Rooi Trem
    • Bestel ons boek, geteken
  • Artikels
  • Reisgedagtes
  • Kontak ons