![]() Besig, besig, besig. Ons parkeer buite die stad by 'n parkeerarea, vang die trem tot by die stasie, klim op die moltrein, en stap oor die bruggies en gragte na ons boottuiste, De Keizerinn, vasgemeer aan die Niewe Keizergracht. Vriendelike Peter ons gasheer ontvang ons en ons is in ekstase oor die oulike plekkie - piepklein maar perfek ingerig, skoon én uniek. Ons gooi die rugsak af, en val dadelik weer in die pad - want vandag gaan ons dié stad per water verken! Ons klim by die Hermitage-gebou op een van die dosyne kanaalbote - ons het die geskiedenis-roete gekies. Gerieflik, want jy kan oral afklim en weer opklim soos die bote verbyvaar. Vir my is die baie groot waters die grootste verrassing, want hoewel mens dit tog weet, besef jy nie altyd dat Amsterdam werklik eintlik binne-in water gebou is nie! Selfs van die reuse geboue is op onsigbare stelte gebou. Die dag is so heerlik sonnig en hoewel dit koelerig is, het ons seker een van die beste herfsdae gekies vir ons trippie. Ons klim by die Anne Frankhuis af, maar die toue mense sit ons bietjie af - ons het nie soveel tyd nie - sal weer terug moet gaan op 'n ander keer. Ek is baie teleurgesteld daaroor, maar aanvaar dit maar gelate - ook dit kon ons nie voorsien nie: die hordes toeriste wat oral is! Amper so erg soos in Londen! Ons volgende belangrike stop is by die Rijksmuseum. Ons loer daar rond maar ek het net een oogmerk en dit is om onse Vincent te gaan bekyk. Die Van Gogh-museum is agter die Rijksmuseum en ons is opgewonde toe ons die bekende skliderye op baniere en in stalletjies al van buite die groot gebou sien. En ja, ek was NIE teleurgesteld nie! Dit was alles en meer as wat ek verwag het. Ek en Henk kon ook nie glo dat ons toegelaat word om fotos te neem van die werke nie! Die museum is so ingerig dat mens saam met Vincent sy skilderjare stap, van sy eerste invloede af tot op die laaste, waar hy werklik tot sy volle potensiaal gekom het. Een van die laaste skilderye gryp my so aan die hart dat ek eers moes uitstap en gaan trane afvee. Goeie hemel, maar dit was darem fantasties om te kon belewe! Ons twee 'oues' se voete is teen die tyd al so seer, en nou moet ons nog ver terugstap grag toe om ons boot te vind. En gelukkig kry ons weer een van die vorige kapteins se boot - ene Lieuwe! Wonderlike aanwins vir daardie redery! Hy is vrolik, praat in talle tale, joviaal, onthou almal en leer tot die Spanjaarde en Britte op die boot om te sê: In Amsterrrrdam is daarrr Godallemachtig 88 prrrrrachtige grrrrachte! Wat 'n treat is so iemand nie - trotse gids, lief vir sy stad en ten alle tye professioneel en tog lekker humoristies! Ons neem fotos van alles - die lieflike horingou huisies langs die water, die talle boothuise (ek dink Lieuwe het gesê daar is al 2500) met verkoopwaardes van tot 400 000 Euro! Die groot kerke, brue, antieke én moderne geboue, en ek blom. Dit is wraggies baie meer as wat ek verwag het! Ons sleep onsself eindelik voort die twee blokke terug na ons boot, maar is rasend honger en vars net op en stap om die draai na 'n plaaslike 'bruin kroeg'. Dis maar 'n tipiese pub, maar kinders hol rond en studente sit en swot oral. Lekker gesellig het ons ons op 'n groot bruin leerbank tuis gemaak en die dag in oënskyn geneem oor 'n paar wyne en snacks. Laataand is ons terug oor die brug en gaan sit heerlik buite op die dek met die presentwyntjie van ons gasheer, en die aand is soel en stil. Oorkant die grag begin iemand met 'n helder stem sing, sommer so 'n bekende Nederlandse popliedjie, en ek sing so 'n paar note oor die water saam. En ons lag!
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Argiewe
July 2020
|